Talle skitterende prestasies in 1988

RSS
Follow by Email
Facebook
Facebook
Twitter

Deur CYRIL ADRIAANSE

VANJAAR was beslis ‘n baie woelige tydperk vir al ons sportmanne en vroue. Hoewel daar ‘n hele aantal individue was wat die aandag op hulle gevestig het met uitmuntende vertonings, het sportamptenare wêreldwyd opslae gemaak oor die sogenaamde “inisiatiewe” wat hulle aan die dag gelê het. Hier volg ‘n oorsig oor die jaar se sporthoogtepunte, en die sterre wat hy opgelewer het.
ATLETIEK:
Die grootste hoogtepunt op die atletiekkalender van die SAAAR was ongetwyfeld die skitter-pogings van die Kaapse blits, Shaun Vester, in die kort naellope vir junior mans.
Vester het die verbeelding van die atletiekwêreld aangegryp toe hy op 11 Maart vanjaar ‘n skitterende handtyd van 10,1 op die klubkampioenskapsbyeenkoms van die WP op die UWK-baan aangeteken het. Sy nuwe rekordtyd het ook Nazeem Smith se senior tyd van 10,2 oortref.
Shaun het vroeg in die jaar al ook die 200 m-rekord sy eie gemaak toe hy dié wedloop in ‘n uitstekende 20,8 sek in die Vygieskraal-stadion afgelê het.

SV Insert
KAMPIOEN: Die blitsige Shaun Vester in aksie.

Die grootste hoogtepunt in die nuwe jaar sal gewis die langverwagte tweestryd tussen Vester en Smith in die kort naellope wees.
Vester se skitter-prestasies op die baan vanjaar het hom ‘n aantreklike borgskap wat oor tien jaar sal strek van die maatskappy Reader’s Digest (SA) besorg – ‘n eerste vir ‘n atleet van die SA Amateur-Atletiekraad (SAAAR).
Vester, wat van aanstaande maand af as ‘n senior man gaan deelneem, se mantel in die junior-afdeling sal nou seker val op sy WP-spanmaat, en een van sy grootste teenstanders, Adnaan Lackay.
Die Boland se atleet, Mario Allies, wat spog met ‘n beste tyd van 10,4 (in die afdeling vir junior mans), gaan ook volgende jaar saam met Vester na die afdeling vir senior mans opskuif. Allies, Vester en Smith, tesame met van die meer gevestigde senior naellopers, behoort aanstaande jaar vir vele opwinding te sorg.
Clint Cloete van die Boland was die ander atleet wat die wêreld aan die brand gehad het met sy uitmuntende vertonings op die baan. ‘n Onbekende Cloete het skielik as die vonds van die jaar na vore getree toe hy op ‘n baie koue 24 Maart – tydens ‘n spesiale byeenkoms op die UWK-baan -die 400 m vir senior mans in 47,5 sek afgelê het. Die poging was slegs ,04 sek buite die rekord wat agter die naam van Nazeem Smith staan. Wat dié poging van die seun van Bredasdorp des te meer merkwaardig maak, is die feit dat die geweste feitlik nie oor noemenswaardige afrigtingsgeriewe beskik nie.
Cloete, wat so pas sy Matriekeksamen afgelê het, oefen nog steeds sonder die hulp van ‘n afrigter op die plaaslike rugbyklub se velde. ‘n Mens kan verwag dat verskeie opvoedkundige inrigtings hom reeds met aansoeke oorval vir verdere studies. Ander hoogtepunte op die atletiekfront is die vertonings van nog twee junior atlete, Anita Witbooi van Macassar en Ebenezer Felix van die WP.
Witbooi het vroeër vanjaar alle teenstand uit die pad gevee in die 1 500 m en het ook baie goed presteer in die 800 m.
Haar tweestryd met die ervare Valda Booysen was deurgaans die hoogtepunt van die Studentliga-byeenkomste wat op UWK beslis is. Dit was juis tydens een van dié byeenkomste dat sy ‘n nuwe rekordtyd van 4:42,8 sek in die 1 500 m aangeteken het – en in die proses deeglik afgereken het met Booysen, die verdedigende kampioen. Ebenezer Felix, die Sasssa-kampioen, se vertonings in die 800 m en 1 500 m het getoon dat die jonger geslag aanstaande jaar die toneel gaan oorheers. Hy het Cecil Witbooi se rekord oortref met sy goeie poging van 1:52,7 sek in die 800 m.

2 thoughts on “Talle skitterende prestasies in 1988

  • March 21, 2016 at 2:36 pm
    Permalink

    Good to see the forgotten sports heroes of yesteryear. Where is Freddie Williams 800m champ?

    Reply
  • October 13, 2015 at 2:31 pm
    Permalink

    Shaun Vester was probably the best sprinter in South Africa during the eighties. Being his 100m & 200m sprint colleague at Grassdale and a good friend. He was awesome to watch.

    Reply

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *